Moenie raai-raai speel as dit kom by raaigras nie
Kies die beproefde, betroubare opsie vir onkruidbeheer
Raaigras word wêreldwyd as die nommereen-weerstandbiedende onkruid beskou en kan beduidende opbrengsverliese inhou indien dit nie vroegtydig in die kiem gesmoor word nie. Hoewel dit wydverspreid in Suid-Afrika voorkom, is dit veral ’n probleem in winterreënvalstreke.
Talle gewasse wat in somerreënvalstreke deur die herfs- en wintermaande onder besproeiing verbou word, kry dikwels ook probleme met raaigras, soos byvoorbeeld in boorde en wingerde en by kleingrane in die Noord-Kaap.
Die Lolium-grasgroep (raaigrasgroep) het sy oorsprong in dieselfde gematigde streke van die wêreld waar belangrike kleingraansoorte soos koring, gars en hawer ontstaan het. Dieselfde mate van aanpasbaarheid by hul omgewing en soortgelyke behoeftes aan groeifaktore (water, lig en voedingselemente) maak sterk kompetisie tussen hierdie onkruid- en gewassoorte onafwendbaar waar hulle vermeng voorkom, soos op kleingraanlande.
Die groot uitdaging vir kleingraanprodusente is om ’n onkruidgrassoort (raaigras) wat tussenin ’n ander grassoort (kleingraan) groei, op ’n selektiewe wyse, sonder risiko vir die gewas, te beheer. Onkruiddoders met selektiewe werking het lank goeie raaigrasbeheer gebied totdat weerstand teen die meeste daarvan met verloop van tyd ontstaan het. Die “fops” (bv. diklofop-metiel) en die “dims” (bv. Iodosulfuron-metiel-natrium) asook die sulfonielureumonkruiddoders (bv. chlorsulfuron) het lank goeie, selektiewe beheer van raaigras gebied, maar weerstand teen belangrike onkruiddoders in hierdie drie groeperings het mettertyd in ’n mindere of meerdere mate ontstaan. Wêreldwyd het raaigras ook weerstand opgebou teen nie-selektiewe onkruiddoders wat tipies as ’n “uitklop-opsie” voor plant benut word, naamlik: glifosaat, glufosinaatammonium en parakwat.
Sakura® van Bayer is besonder effektief vir die beheer van raaigras, omdat dit die opkoms van raaigras verhoed. Die gewas is dus van vroeg af vry van kompetisie met raaigras en kan derhalwe ’n kritieke voorsprong kry bo raaigras en ander onkruidsoorte wat deur Sakura® beheer word.
Die hoofbestanddeel van hierdie residuele vooropkomsonkruiddoder, Piroksasulfoon (Pyroxasulfone), word hoofsaaklik deur die wortels van die plant opgeneem en tot ’n mindere mate deur halms van ontkiemende onkruide, en inhibeer groei in die meristematiese weefsel (wortels en halms).
Sakura® se sukses kan grotendeels toegeskryf word aan die produk se vermoë om vir langer periodes aktief in die grond te bly (langer as die meeste vooropkomsonkruiddoders). Dié onkruiddoder bly lank genoeg aktief om goeie onkruidbeheer te verseker.
Dit is egter belangrik om Sakura® se werking te verstaan om seker te maak dat jy die regte omstandighede vir sukses verseker. Bestudeer die produketiket vir meer inligting oor die toedieningsvereistes.
MAAK GEBRUIK VAN BEPROEFDE, BETROUBARE PRODUKTE
Wanneer dit kom by die effektiewe beskerming van jou lande teen onkruide, is daar geen kortpaaie nie. Die gebruik van getoetste produkte wat bewese resultate lewer, bo generiese alternatiewe, is belangrik. Een van die groot voordele van Sakura®, is die betroubaarheid daarvan. Hierdie onkruiddoder is reeds vir baie jare ’n betroubare keuse vir boere regoor Suid-Afrika en het reeds talle proewe ondergaan om die kwaliteit daarvan te verseker.
Met die gebruik van enige onkruiddoder, is dit belangrik om die regte praktyke toe te pas om onkruiddoderweerstand te voorkom en te bestuur.
Vyf goue reëls vir doeltreffende bestuur van onkruiddoderweerstand:
- Hou onkruidgetalle op die land so laag as moontlik – dit beperk outomaties die getal onkruidplante wat weerstand bied.
- Voorkom onkruidsaadproduksie in ’n bepaalde seisoen, want dormante sade sal in die grond-saadbank oorgedra word om oor verskeie seisoene heen te ontkiem.
- Moenie oorafhanklik wees van ’n enkele metode van onkruidbeheer nie, of dit nou onkruiddoder, grondbewerking of dekgewasse behels. Onkruid sal mettertyd by enige enkele soort beheerpraktyk aanpas en “weerstandig” raak.
- Vermy die gebruik van ’n enkele soort onkruiddoder. Die onkruiddoderprogram moet onkruiddoders met verskillende metodes van werking insluit.
- Hou streng by voorgeskrewe dosisse wat op etikette van onkruiddoderprodukte verskyn. Beide oor- en onderdosering bevorder die ontwikkeling van weerstand teen onkruiddoders. Volg ook nougeset die voorskrifte rakende die tyd van toediening (voor opkoms en/of na opkoms) asook die ideale groeistadium van onkruid vir toediening (bespuiting van té groot plante kom neer op “onbedoelde onderdosering”).
Effektiewe beheer teen onkruide is noodsaaklik om jou koring die beste kans op sukses te gee en om ’n verhoging in opbrengs, en daarmee saam, winsgewendheid te verseker. Maak Sakura® vandag nog deel van jou koringspuitprogram en ervaar die voordele wat dit vir jou boerdery inhou.
Om meer uit te vind oor Sakura® se werking, besoek Bayer se produkbladsy, of klik hier om jou naaste Bayer-verteenwoordiger te vind.