Die gebruik van swamdoders is ’n agronomiese praktyk wat noodsaaklik is vir gesonde gewasse om opbrengs te beskerm en hul gehalte te verbeter. Patogene, soos die meeste lewende organismes, moet kan aanpas om te oorleef. Oorlewingsbeheer deur swamdoders vind plaas deur ’n mutasieproses wat tot weerstand teen swamdoders lei. Om die risiko van weerstand te temper en te bestuur, is die Fungicide Resistance Action Committee (FRAC) gestig om voorkomingsmaatreëls vir swamdoderweerstand te bepaal. FRAC is ’n intermaatskappyorganisasie geaffilieer met Crop Life International. Dit behels gereelde hersiening van die stand van weerstand asook om toetsprosedures te omskryf. In Suid-Afrika is daar ’n werksgroep wat onder die beskerming van CropLife Suid-Afrika, funksioneer.
Weerstand (ook bekend as ’n verskuiwing in sensitiwiteit) kan ontwikkel teen ’n spesifieke metode van werking van ’n swamdoder en word aan die volgende scenario’s toegeskryf:
- Herhaalde toedienings van ’n swamdoder met ’n spesifieke metode van werking.
- Die swamdoderdosis kan die risiko beïnvloed. Byvoorbeeld, dosisse wat nie dodelik is nie kan die risiko vererger.
- Die populasie van die patogeen wat aan die swamdoder blootgestel is – indien siektevoorkoms relatief laag is, neem die voorkoms en seleksie van moontlike weerstandige mutasies af.
- Wanneer ’n groot area eenvormig en voortdurend met ’n spesifieke swamdoder behandel word, is die risiko vir weerstand groter.
- Die gebruik van geïntegreerde siektebeheer, insluitende die gebruik van nie-chemiese metodes, soos siekteweerstandige variëteite, gewasrotasie, of higiëniese praktyke sal die siektedruk en swamdoderseleksiedruk verlaag.
Hoe om weerstand te vermy
- Vermy die uitsluitlike gebruik van ’n swamdoder met ’n enkele metode van werking.
- Wissel die metode van werking van swamdoders om die beurt af.
- Hou by die goedgekeurde dosis; ’n niedodelike dosis sal die weerstand vererger.
- Bring verbouingsmetodes in om siektevoorkoms te verminder, soos:
- Siekteverdraagsame variëteite
- Manipulasie van die gewasomgewing (deur te snoei en verbeterde lugvloei te bewerkstellig)
- Optimalisering van gewasgesondheid.
Die voorkoming van swamdoderweerstand is uiters belangrik vir die volhoubaarheid van jou boerderypraktyk. Deur die korrekte risikobestuurstrategieë te implementeer, kan jy hierdie seisoen jou gewasse beskerm.
Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, besoek Bayer Crop Science se webtuiste by www.cropscience.bayer.co.za.