Boervrou van die jaar competition

Telana Otto wil ’n verskil in mense se lewens maak – al is dit net een

Telana Otto Boervrou

Bayer se eerste Boervrou van die Jaar-kompetisie is afgehandel en die wenners is tydens ’n glansryke geleentheid op 13 September by Montecasino in Johannesburg aangekondig. Daar was twee kategorieë, Vrou wat boer en Boer se vrou, met drie finaliste in elke kategorie, waaruit die algehele wenner in elke kategorie toe gekies is. Een van die finaliste vir Vrou wat boer, was Telana Otto. Telana boer in die Vrystaat op die plaas Uitkyk naby Bultfontein. Haar boerdery staan bekend as Anana Kalahari Reds- en Boerbok-stoet en is deel van die Johtel Boerdery (Edms) Bpk. Behalwe boerbokke en Kalahari Reds, boer sy ook met Bonsmarabeeste en maak sy bottelkalfies groot. Ons het met Telana gesels oor onder andere haar grootwordjare, haar besluit om te boer, wat haar inspireer en die uitdagings wat sy as boer daagliks voor te staan kom. Lees gerus verder.


Wie is Telana?

Ek is ’n Koning se dogter – ek maak Hom trots. Ek is gemaak in die beeld van Jesus en Hy het my oneindig lief. Vir Hom is ek goed genoeg – al voel ek nie altyd ek is nie.


Ek kom oorspronklik van Edenville af – ’n klein dorpie tussen Kroonstad en Heilbron in die Vrystaat. My ma was jare lank die koöperasiebestuurder by Senwes en my pa ’n onderwyser op die dorp. Ons is daarna Hennenman toe waar ek my laer- en hoërskooljare voltooi het. My kinderjare was geseënd en alhoewel my ma as ’n enkelouer die pad vorentoe gevat het, het sy gesorg dat ek altyd meer as genoeg gehad het. Ek was ’n gebalanseerde kind op skool – ek was deel van die Top-10- akademiese-presteerders, en het jaarliks vir die Vrystaat aan atletiek deelgeneem en netbal gespeel. Na skool het ek by Future Flyers in Jet Park naby Kempton Park aangesluit waar ek my lugwaardinkursus voltooi het. Ek het daarna vir Solanta Aviation gewerk wat uitgekontrakteer het vir Airlink, SA Express en Fastjet. Dit was ’n ongelooflike belewenis. Intussen het ek vir Johan ontmoet en ons het besluit dit is beter vir my om terug te keer huis toe. Ek is natuurlik glad nie iemand wat kan stilsit nie en het dus ’n jaar lank by Fire-Quip in Welkom gewerk as ’n veiligheidsverteenwoordiger. Ek en Johan is in 2019 getroud en ons dogtertjie is in 2023 gebore.


Hoe het dit gekom dat jy self boer?

Boer is beslis iets wat nog altyd deur my are loop. My oupa se pa-hulle was dorperboere. Alhoewel my grootste droom was om veearts te word, het dit nie gerealiseer nie, maar ek is bevoorreg dat ek met ’n boer kon trou. Abba het my geseën met die vermoëns om dit te kan doen, maar Hy het mense as instrumente en leermeesters in die proses gebruik. Daarom het ek my stoetboerdery Anana genoem wat beteken: “Gegee deur God”. Ek het die aanvraag en geleentheid raakgesien om met diere te boer wat nie baie volop in ons omgewing en provinsie voorkom nie en dit het my meer gemotiveer om te doen waarvoor ek lief is.


Om boer te wees, is nie maklik nie. Vertel ons van jou grootste uitdagings.

Dit is beslis nie maklik om te boer nie. Een van my grootste uitdagings is om aan te pas by ons onvoorspelbare natuuromstandighede wat my leer om positief en geduldig te wees, want negatiwiteit kan vinnig ’n houvas op jou kry.


Boerdery kom met baie uitdagings. Diere wat nie presteer nie, vrektes, oesverliese, werkersprobleme en vele meer. Ek het geleer om dinge te vat soos dit kom en elke struikelblok een vir een te hanteer. Goeie goed vat altyd tyd. Wanneer ek kyk na my stoetery, is daar daagliks beproewings wat ek moet oorkom. Werkers wat nie opdaag nie, diere wat vrek nadat jy alles probeer het om hulle te red, teling wat nie uitdraai soos mens hoop nie. As mens teel vat dit jare om ’n dier te teel presies soos wat jy hom of haar graag wil laat lyk. Gelukkig is ons almal mens en wat jy dink of beplan werk nie altyd so uit nie en dit kan mens vinnig negatief maak. Daarom probeer ek altyd om die regte gesindheid te hê sodat ek elke beproewing reg kan hanteer.


Beskryf ’n tipiese dag op jou plaas.

’n Boervrou se take hou nooit op nie. My dag begin reeds om 05:30 wanneer ek my dagstukkie lees en my dagtake beplan. Na ontbyt word al die diere deurgeloop en deurgekyk en word addisionele werkies gedoen. Dit is tans bok- en skaap-lamtyd by ons. Ooie wat gelam het, word na hokkies geskuif by die lamstoor. Hulle word nagegaan, gespuit en ons sorg dat hulle reg is. Tussendeur hardloop ek agter my dogtertjie aan wat in en bo-op alles wil klim. Na middagete gaan ons voort met die res van die take wat afgehandel moet word voor ons 16:00 weer begin voer en diere deurgaan. Daar word ook so twee keer ’n week vir die beeste lek uitgesit waar hulle ook nou begin kalf.


Wie of wat inspireer jou?

Sjoe! As ek moet dink wie of wat my inspireer kry ek skoon ’n knop in my keel. Die eerste persoon wat my inspireer is my ma. Sy is presies die beeld van ’n Spreuke 31-vrou. “’n Knap vrou is baie werd … meer as edelstene. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Gee haar wat haar toekom.” My ma het al baie keer in ’n bootjie geklim en die see ingevaar – alleen – maar sy het elke keer sterker anderkant uitgekom, ongeag die struikelblokke. Sy maak altyd die beste van elke situasie. Haar woorde was altyd – “Jou gesindheid bepaal hoe goed jy iets doen of daarna kyk. Jy het die keuse om te besluit waarnatoe jy gaan. Gaan jy jou lewe sien as bitter swaar of as die voorreg van lewe? Is jou glas halfleeg of halfvol? Moenie dat die verlede of wêreldverwagtinge jou definieer nie.”


Die tweede persoon wat my inspireer, is my man. Sy stille teenwoordigheid motiveer my om my beste te lewer en te sorg dat hy trots is op my. Hy het my geleer om net geduldig te wees en die bekommernisse van môre opsy te sit. Sy persoonlikheid en menswees is net aansteeklik. Hy betoon soveel liefde en opregtheid. Hy leer my elke dag soveel aspekte van my lewe en boerdery. Hy ondersteun my en help my om te sien dat mense tot alles in staat is deur Hom wat ons krag gee. Hy is ’n voorbeeld van hardwerkendheid.


As ek iets oor die natuur moet sê wat my inspireer, is dit die gewilligheid van lewe. Die beste voorbeeld is om dit te vergelyk met ’n veld wat gebrand het. Ongeag die seer, donkerte en uitdagings moet mens altyd gewillig wees om weer te groei.


Watter eienskappe dink jy is nodig om ’n suksesvolle boer te wees?

Jy moet besef jy het die vermoëns om dit te doen. Jy moet, ongeag die uitdagings, gemotiveerd bly. Sorg dat jou gesindheid reg is, want dit bepaal hoe jy iets doen en aanpak. Wees geduldig, hardwerkend, en gelukkig… en geniet dit. Dit is ’n voorreg. En laastens. ’n Aanhouer wen!


Watter raad het jy vir ander vroue wat wil boer?

My raad aan hulle sou wees om te besluit waarmee hulle wil boer. Jy moet vasstel wat jy wil bereik en dan moet jy jou navorsing so deeglik moontlik doen. Probeer altyd na die positiewe kyk en sien elke uitdaging as ’n geleentheid om te verbeter. Agtergrond definieer jou nie. Jy kan van niks af iets opbou, ongeag of dit op ’n groot- of kleinskaal is. Kyk na alles wat jy tot jou beskikking het. Jou plaas, grond, omgewing en alles wat dit jou bied en wat die aanvraag op daardie spesifieke plek is. Al stem dit ooreen met iets waarmee iemand anders reeds boer. ’n Bietjie gesonde kompetisie het nog nooit skade gedoen nie! Jy moet onthou dat jy foute sal maak en dat dit ’n leerskool is vir jou om te groei.


Jy is getroud, ’n ma en boonop ’n boer, en natuurlik het jy werknemers wie se probleme dikwels ook jou probleme word, hoe hou jy al die balle in die lug?

Dis belangrik om ’n gesonde balans te vind. Om jouself deur drie te deel as vrou, ma en boer en te dink dat jy 100% van jouself aan al die rolle kan gee, is die meeste van die tyd nie moontlik nie en hang maar baie van omstandighede af. Ek sorg dat ek altyd simpatie en empatie betoon en probeer om te beplan en te prioritiseer. Ek probeer ook om goeie kwaliteittyd saam met my man en dogtertjie deur te bring om vir hulle die nodige aandag en liefde te gee wat hulle nodig het. Ek gebruik liefdestale om klein goedjies te doen om vir hulle te wys ek dink aan hulle, waardeer hulle en is lief vir hulle.


My werknemers, aan die ander kant, weet dat hulle altyd oor enigiets met my kan praat en dat ek hulle sal probeer help en ondersteun na die beste van my vermoëns, ongeag die probleem. Onvoorsiene probleme met die werkers word verwys na ’n professionele persoon wat dit dan namens ons hanteer.


Hoe ontspan jy?

My man sê altyd ontspanning is nie iets wat in my woordeskat voorkom nie. Ek is iemand wat glad nie kan stilsit nie. Om op een of ander manier besig te wees, is my ontspanning. Van draf, huis skoonmaak, beskuit bak, tussen die diere loop tot piekniek in die veld – dit is alles ontspanning vir my.


Wat maak jou gelukkig?

Vir my is geluk tevredenheid, vrede en vreugde. Dit maak my gelukkig om te sien mense om my is gelukkig. Om te sien dat dit met mense na aan my goed gaan. Om kuiermense om ’n tafel te hê en te sien hoe lekker almal eet, lag en kuier. Om iets vir iemand te doen en te sien hoe bly dit hulle maak. Om tussen die diere te loop en te sien hulle is gesond. Om elke oggend op te staan met die wete dat Abba my so lief het en die voorreg gegee het om my nog ’n dag as ’n instrument in sy Skepping te gebruik en om ’n voorbeeld vir familie en vriende te wees.


Watter verskil dink jy maak jy deur jou werk as boer?

Ek skep werksgeleenthede om jong meisies en vroue te motiveer en te inspireer om dit waarvoor hulle ’n passie het, te kan begin en uit te leef – al is dit op kleinskaal. Ek dra ook by tot die groter prentjie om die boerbokras te bevorder deur aan skoue en veilings deel te neem, veral omdat daar so min vroue is wat met hulle boer.


Watter aspek van boerdery geniet jy die meeste?

Die bokke is wat ek die meeste geniet. Hulle het net ’n manier om op mens te groei. Hulle is diere wat ongelooflik slim is met baie persoonlikheid. Hulle gee my ook die geleentheid om nuwe plekke te sien en mense te ontmoet.


As jy dit alles kon oordoen, sou jy iets wou verander of sou jy dit weer net so doen?

As ek alles kon oordoen sou ek dit weer net so doen. Hy het my geken en liefgehad lank voor ek eers bestaan het. Elke goeie en slegte gebeurtenis, uitdaging of struikelblok, geluk en traan, elke persoon in my lewe het ’n impak op my en my besluite gehad. Al was dit nie altyd maklik nie, het dit alles my help skaaf en vorm in wie en wat ek vandag is. Spreuke 16:9 sê: “Die mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.”


’n Laaste woord uit die perd se bek …

“Wanneer ’n mens kyk na die waarde en sukses van jou boerdery besef ’n mens dat dit nie saak maak hoeveel hart en passie jy as boer insit nie. Die boerdery behoort nie net aan een eienaar nie, maar aan almal op die plaas wat as span werk om alles goed te laat afloop om sodoende die hele boerdery met al sy vertakkings te bevorder en so die beste en meeste potensiaal uit die plaas te kry.


“Elke jong boervrou of boer se vrou moet weet wat sy werd is en die verskil wat sy daagliks maak. Dit is hoekom ek myself op die “map” wil sit sodat almal kan sien “Boervroue kan!”