Lize Marié du Toit wéét wat dit vat om ’n boervrou te wees. “Jy moet sterk genoeg wees vir die moeilike tye, sag genoeg wees om elke hanslam in te neem, geduldig genoeg wees om te weet dat die vee altyd op pad kerk toe sal uitkom, ambisieus genoeg om altyd nog planne te probeer maak, en vriendelik genoeg dat jou buurvrou jou altyd sal bel.”
Met ’n graad in BSc (Agric) met landbou-ekonomie, voedselwetenskap en finansiële bestuur as hoofvakke, is sy nie net ’n klankbord vir haar man nie ... sy is ook ’n belangrike besluitnemer op hul plaas.
Dit is daarom geen verrassing dat Lize Marié vanjaar een van die finaliste van Bayer se Boervrou van die Jaar-kompetisie was nie.
Lize Marié-hulle se plaas, Nooitgedacht, is in die Overberg-distrik naby Bredasdorp geleë waar hulle met koring, gars, kanola en Dohne Merino-skape boer.
Haar betrokkenheid by landbou strek egter baie verder as hul plaas. Sy is ook die streeksbestuurder van die Melkprodusente-organisasie in die Wes-Kaap waar sy op verskeie maniere hulp verleen aan sowat 320 melkboere, byvoorbeeld deur opleiding van werkers, die deel van waardevolle inligting en vele meer. Deur haar betrokkenheid by dié organisasie en haar sosialemediaplatforms, leef sy ook een van haar groot drome uit – om die melkbedryf in sy geheel te bevorder.
Buiten vir al die rolle wat sy reeds volstaan, dra sy ook die hoed as vrou en mamma van ’n pragtige 20-maande-oue seuntjie. Ons het met Lize Marié gesels oor haar lewe op die plaas, haar uitdagings en haar inspirasies.
Wat geniet jy die meeste daarvan om ’n boervrou te wees?
Ek geniet dit om so naby aan die natuur te leef. Die skoon lug, die ooptes en natuurlik die boeregemeenskap.
Jy het ook jou eie loopbaan. Hoe balanseer jy die eise van die plaaslewe met jou beroep?
Met min slaap en baie rooibostee!
Ek het van kleins af aan ’n groot verskeidenheid aktiwiteite deelgeneem, so moes maar vroeg-vroeg leer hoe om te prioritiseer en om my tyd goed te bestuur. Party dae verloop natuurlik gladder as ander.
Om ’n boervrou te wees, is nie maklik nie. Wat is van die grootste uitdagings waarvoor jy te staan kom?
Plaaslewe is lieflik, maar dit word gereeld in televisieprogramme verromantiseer en ek dink nie die mense in die stad besef watter opofferings met boerdery gepaardgaan nie. Die plaas kom altyd eerste, bo enige afsprake wat gemaak is, bo vakansies, en bo spesiale datums. Maar die grootste uitdaging is seker om positief te bly in die slegte tye, en ook jou man positief te hou.
Hoe lyk ’n tipiese dag op jul plaas?
Eerste ding in die oggend maak ons koffie en tee, en ek maak ontbyt vir my en my seuntjie. Indien my man dan trekkerwerk gaan doen, word koelsakkies met kos gepak. Daar is gewoonlik ’n bietjie plaasadministrasie wat ook moet gebeur. Van daar val ek in die werk met die melkbedryf, besoek die melkboere van die Wes-Kaap, woon vergaderings by en hanteer administrasie van die huis af. Tussendeur maak ek gou seker daar is middagete vir almal, en dan is dit weer terug in die bakkie of voor die rekenaar. Smiddae is my elektriese stoompot my beste maat om ’n lekker warm aandete te kan bedien. Dan is dit eers tyd vir aandete, bad en speeltyd. As my seuntjie slaap is ek gewoonlik weer terug voor die rekenaar vir nog ’n paar ure. Ek sluit dan my dag af met tee, sjokolade en ’n storie saam met my man of ’n lekker boek in die bed.
Wie of wat inspireer jou? Dit kan meer as een persoon wees of selfs iets in die natuur.
Ek was nog nooit regtig iemand wat rolmodelle gehad het nie. Ons elkeen se situasie is tog so uniek. Ek probeer maar net elke dag om die beste weergawe van myself te wees.
Hoe ontspan jy?
Ons gaan stap in die laatmiddag met ons honde en seuntjie. ’n Lekker rustige dag in die natuur met ’n boek is ’n wenner. En natuurlik is rooibostee en sjokolade altyd welkom.
Wat maak jou gelukkig?
Mooi en lekker goed: sjokolades, blomme, mooi kos. Verder geniet ek kaartspel of net om tyd in die natuur te spandeer. Daar is natuurlik ook niks beter as jou kleuter se giggels in die huis nie.