Boervrou van die jaar competition

Karin Mathews: ’n Rots op die plaas en in haar gemeenskap (WENNER)

Karin Mathews Boervrou

Karin is meer as net ’n boervrou. Sy is ’n kerndeel van die Silverton-boerdery en ’n anker in die Mathews-huishouding. Hier op hul plaas in die Lichtenburg-omgewing, geniet sy die ooptes, om deur die lande te ry as dit gereën het, of om saam met haar man en seun in die stroper te sit tydens oestyd.


Karin Mathews is vanjaar op 13 September tydens ’n glansgeleentheid, aangewys as Bayer se Boervrou van die Jaar 2024. Hoewel sy nie self op ’n plaas grootgeword het nie, pas die plaaslewe haar soos ’n skoen en vul sy talle rolle in die boerdery. Haar man, Derek en seun Michael John, boer met gemengde gewasse en vee terwyl Derek ook betrokke is in georganiseerde landbou.


Ten einde hulle toe te laat om hul volle aandag op die boerderybedrywighede te spits, het Karin dit op haarself geneem om die dag-tot-dag administrasie van die plaas te hanteer. Haar man se betrokkenheid by georganiseerde landbou, vereis dikwels dat hy weg van die plaas af werk. In hierdie tye, neem Karin, saam met haar seun, die leisels oor om te verseker dat die wiele op die plaas aanhou draai.


Buiten vir haar rol op die plaas, is sy ook ’n rots in haar gemeenskap. Karin is aktief betrokke by die Emmaus-beweging waar sy as die sekretaris van die Suid-Afrikaanse raad dien. Ons het met Karin gesels oor haar grootwordjare, haar rol as boervrou en haar liefde vir die plaas.


Wie is Karin?

Ek het in Johannesburg grootgeword, en was glad nie ’n plaasmeisie nie. Ek het hoërskooljare by Potchefstroom Hoër Meisieskool deurgebring waar ek beste vriende met my toekomstige skoonsuster geword het! Na skool het ek my vierjaarlange Diploma in Opvoedkunde aan die Johannesburg College of Education behaal. Ek het skoolgegee tot ons oudste dogter gebore is en daarna het ek uitgehelp wanneer hulle ’n onderwyser by ons plaaslike laerskool benodig het. Hoewel ons mekaar geken het, het ek en Derek eers na skool begin uitgaan. Ek het hom gevra om saam met my na ’n 21ste verjaardagpartytjie te gaan en, soos hulle sê: “the rest is history”! Ons is nou vir 38 jaar lank getroud.


Jy is betrokke by die hantering van die admin op die plaas. Kan jy so klein bietjie meer uitbrei wat jou rol hier behels?

Ek dink tot ’n groot mate word boerdery deur die publiek verromantiseer. Baie mense dink dit is ’n rustige lewe sonder stres. Jy werk nie eintlik nie, alles gebeur net vanself! Die realiteit is, dis dieselfde as om enige ander besigheid te bestuur. Nie Derek of Michael John geniet die administrasie nie, so ek is verantwoordelik daarvoor. Ek hou ’n fyn oog oor die finansies sodat Derek en Michael John nie te veel geld spandeer nie! Derek is ook baie betrokke by georganiseerde landbou so ek help hom ook om sy dagboek te beplan.


Julle het ’n kerk op jul plaas waar julle twee keer ’n maand dienste hou. Vertel my bietjie meer hieroor. Hoe het dit gebeur dat julle betrokke geraak het by hierdie inisiatief?

Ons kan nie krediet neem vir die kerk op die plaas nie. Derek se oupa het die kerk in 1959 gebou. As ’n jong man in 1918, het hy kaas gemaak in KwaZulu-Natal en daar was ’n klein kerkie op die plaas in die Ladysmith-omgewing waar die gemeenskap bymekaargekom het. Met sy terugkeer na die plaas in 1920, het hy belowe dat hy eendag ’n kerk op Silverton sou bou. Dit het egter nooit gebeur nie. In 1959 was hy in ’n ernstige ongeluk betrokke wat hy oorleef het en die dokter se woorde aan hom was: “Moenie dink dit was ek nie, dit was God.” Na sy herstel het hy besluit om die kerk te bou as teken van God se liefde en genade. Die Metodiste-minister van Lichtenburg het een keer ’n maand kom preek, maar dit het later doodgeloop. Die kerk was vir lank nie gebruik nie, maar die jonger generasie het nou nuwe lewe daarin geblaas en vandag bring dit ons gemeenskap nader aan mekaar. Ons hou twee dienste in ’n maand.


Om ’n boervrou te wees, is nie maklik nie. Wat is van die grootste uitdagings waarvoor jy te staan kom?

Ons leef in ’n area met baie ʼn lae reënval, en in die 38 jaar wat ons getroud is, was daar al baie droë jare. Ons het ’n ernstige droogte verlede jaar beleef. Dit is ’n uitdaging om positief te bly, maar wat sê hulle: ’n Boer maak ’n plan! Ons moet maar net slimmer boer en die tegnologie en boerderypraktyke wat beskikbaar is, gebruik. Deur God se genade het ons oorleef en ek weet met God se leiding sal ons bly oorleef, floreer en ’n nalatenskap bou vir toekomstige generasies.


’n Meer onlangse uitdaging is sekuriteit. Om jou huis, jou skure en jou vee velig te hou, kom teen ’n prys. Dit was aanvanklik vir my ’n groot uitdaging om 56 km dorp toe te ry om inkopies te doen. Gelukkig pas mens aan en is die ver afstande nie meer ’n probleem nie.


Beskryf ’n tipiese dag op jul plaas.

Dit is tans ’n stil tyd op die plaas. Ons is nou besig met herstelwerk en om skoon te maak sodat ons gereed is vir planttyd. Die plantseisoen, Oktober tot Januarie, is ons besige tyd met lang dae en kort humeure! Dan werk ons van sonopkoms tot sonsondergang.


Wie of wat inspireer jou? Dit kan meer as een persoon wees of selfs iets in die natuur.

Mense wat uitdagings in hul lewe oorkom het. Dit laat mens net weer besef hoe geseënd jy is. Ek het onlangs ’n boek deur Cobus Visser gelees wat met hemofilie gediagnoseer is en Kilimanjaro met krukke geklim het. Dit is die tipe stories wat my inspireer. Op ’n meer persoonlike noot – ons oudste dogter Gail, het as kind kanker gehad en die bestraling het haar oog en die beengroei rondom dit beskadig. As volwassene het sy besluit om haar oog te verwyder en dra nou ’n oogklap. Sy het nog nooit toegelaat dat dit haar terughou nie. Sy is ’n suksesvolle onkologie-verpleegster, ’n vrou en ma wat die lewe ten volle omarm!

Ons het ook die mooiste sonsondergange wat mens net weer herinner hoe groot God se skepping is.


Watter eienskappe dink jy is nodig om die rol as boervrou vol te staan?

Jy moet aanpasbaar wees en deursettingsvermoë hê. Daar sal jare wees wat jy elke sent twee keer moet omdraai – en jy oorleef deur nie nuwe motors te koop, op duur vakansies te gaan, nuwe meubels te koop of geld te spandeer op uitstappies nie. Jy moet ondersteunend wees as dinge nie goed lyk nie. Jy moet aanpasbaar en geduldig wees as jou planne vertraag word.

En natuurlik, jy moet ’n sin vir humor hê.


Hoe ontspan jy?

Ek geniet dit om ’n goeie boek te lees, of om te brei. Ek geniet dit om te reis en hopelik, as Derek nie meer so betrokke is by georganiseerde landbou nie, kan ons die land verder verken.

Dit maak my ook gelukkig om tyd saam met my kinders en kleinkinders te spandeer. Ons probeer om een keer per jaar op ’n familie-wegbreek te gaan, maar ’n braai oor die naweek is ook lekker! Dit is goed om doelwitte en ’n visie vir die toekoms te hê, maar dit is ook belangrik om die oomblik te omarm. Om dankbaar te wees vir die genade wat God daagliks aan ons betoon en om geleenthede aan te gryp. Hy gee aan ons die voorregte wat ons so geniet. Dit maak my gelukkig.