Bayer se eerste Boervrou van die Jaar-kompetisie is afgehandel en die wenners is tydens ’n glansryke geleentheid op 13 September by Montecasino in Johannesburg, aangekondig. Daar was twee kategorieë, Vrou wat boer en Boer se vrou, met drie finaliste in elke kategorie, waaruit die algehele wenner in elke kategorie toe gekies is. Een van die finaliste in die Vrou wat boer-kategorie, was Janelle Badenhorst. Janelle boer met mielies, koring en groente op die plaas Mahemsvlakte naby Delareyville. Ons het met Janelle gesels oor haar grootwordjare, haar besluit om te boer, wat haar inspireer en die uitdagings wat sy as boer daagliks voor te staan kom. Lees gerus verder:
Wie is Janelle?
Ek stel myself maar selde voor, want op die platteland ken almal mos mekaar. Ek het grootgeword op my ouers se plaas, Unity, tussen Delareyville en Vryburg, was op laerskool in Vryburg en in Stella op hoërskool – twee klein dorpies in die Noordwesprovinsie. My kinderjare was vir my heerlik en ek het aan alles en nog wat deelgeneem. Na skool, het ek ’n graad verwerf in alternatiewe medisyne – en ontvang binnekort my meestersgraad.
Ek is reeds drie jaar lank getroud met die outjie wat altyd vir my gesê het ek is sy trouvrou. Ons woon nou 60 km (grondpadlangs) van my ouers af. My skoonpa se plaas is tussen Delareyville en Stella. Ons het nog nie kinders nie, maar wel ’n “rescue”-bobbejaan, Sarie. Intussen is ons reeds geruime tyd besig met die proses van in vitro-bevrugting.
Ek is een van drie susters en ons kan almal wildvang, perdry, draadspan en vele meer. My pa het ons geleer (hy is amper soos Rambo) – behalwe dat hy bang is vir die donker en klein hondjies wat sy hakke kan byt. My pa was die persoon wat die sebras vir die fliek “Racing Stripes” mak gemaak het. My ma is ’n onderwyseres, ’n uitstekende verkoopsvrou, goeie spreker (ek aard meer na my pa) en ’n boffin as dit kom by grassny op die klein trekkertjie.
Hoe het dit gekom dat jy self boer?
Boer loop deur my are, alhoewel ek wil glo dat elke persoon ’n begeerte het om iets te plant of om te sien na diere – dis hoe ons geskape is. Ek glo as iemand nie die begeerte het nie, dan is dit omdat hulle nog nie met hulle hande in die grond gewerk of na ’n wilde dier omgesien het nie.
Die enigste verskil tusssen my en ’n stadsvrou, is dat ek die voorreg ontvang het om groot te word op ’n plaas en van jongs af besef het wat werklik in die lewe saak maak. Ek sê “voorreg”, want dit is ’n onverdiende voorreg. Maar, al is dit ’n voorreg beteken dit nog steeds nie dat die lewe maklik was en is nie. Daar is sekere opofferings wat jy maak as jy op ’n plaas woon, maar afgesien daarvan, kies ek die plaaslewe sonder enige huiwering. Plaaslewe maak jou vinnig volwasse. Jy ervaar van kleins af die kringloop van die lewe, die gevare van plaasaanvalle en vele meer realiteite van die lewe. Tog bly plaaslewe die “beter lewe” na my mening.
Om boer te wees, is nie maklik nie. Vertel ons van jou grootste uitdagings.
Uitdagings is deel van die lewe en ek glo dit is wat die lewe uniek en die moeite werd maak. Uitdagings laat ons daagliks groei. Probleemoplossing is deel van ’n boer se daaglikse struktuur. Dit maak ons sterker. Ons pas aan en ons oorkom. Daar is nie vir my ’n groot uitdaging nie. Daar is wel miljoene klein uitdaginkies wat mens daagliks moet oorkom. As jy sukkel met iets, moenie dit te persoonlik opneem nie – dis mos maar deel van ons daaglikse bestaan. Soos die gesegde lui: “’n Boer maak ’n plan.”
Beskryf ’n tipiese dag op jou plaas.
My tyd van opstaan hang af van die werk wat wag en die seisoen waarin ons is. Ek grimeer en trek altyd netjies aan – iets wat my ma my van kleins af geleer het – jy kan mooi lyk en boer. Daarna gee ek die opdragte van die dag deur na die werknemers toe. Ek maak ontbyt en sit kos op vir middagete. Dis vir my belangrik om toe te sien dat ons gesond eet. Ek en my man het al heelwat gewig verloor deur net ons leefstyl te verander.
Ek is heeldag besig met plaaswerk saam met my span. Op die oomblik gebruik ek van my tyd om vir my vlieglisensie te leer. Ek en my man eet saam middagete en dan is dit weer aangaan met die dagtaak. Laatmiddag staan ons tyd af om te oefen. Daarna is dit eet, bad en slaap … en môre doen ons dit alles weer …
Hier is so kort lysie van my daaglikse take tans: Voorraad koop; groentetuinnette opsit; skape en beeste merk; registrasie van stoetdiere afhandel; groente uitplant en saai, en so aan.
Wie of wat inspireer jou?
My sirkel is klein, maar gevul met waardevolle mense met waardevolle eienskappe en ek leer daagliks by hulle. Hulle inspireer my:
My pa – omdat hy braaf is, en al het hy menslike vrees, druk hy nog steeds deur.
My ma – ek admireer haar uithouvermoë en manier hoe sy besigheid doen.
My jonger sussie – sy is baie hardwerkend en weet letterlik hoe alles op die plaas werk.
My man – hy het ’n ongelooflike vermoë om te delegeer en te organiseer.
My skoonpa – sy geduld en hoe hy altyd probeer verstaan en jou bystaan.
My oorlede sussie – ek admireer haar geloof en hoe sy gedurende haar kankerstryd (wat sy op 26-jarige leeftyd verloor het) nog steeds aanhou glo het en gereeld vir ons vertel het van die Here se hand in haar lewe.
My swaer (oorlede sussie se man) – hy het sterk bly staan en is ’n uitstekende pappa vir hulle kindertjies.
Watter eienskappe dink jy is nodig om ’n suksesvolle boer te wees?
My lys is nogal lank, maar ek glo tog mens het die volgende nodig:
Geloof. Uithouvermoë. Positiwiteit. Selfdissipline. Finansiële dissipline. Probleemoplossingsvaardighede. Respek. Betroubaarheid. Eerbaarheid. Landboukennis en om ontvanklik te wees vir ander se raad. Passie. ’n Liefde vir diere en die skepping. Aanpasbaarheid. Goeie menseverhoudings met bure en werknemers. Basiese noodhulp wat jy kan toepas op diere en mense. En laastens: Die vermoë om jouself te verdedig (sekuriteit).
Watter raad het jy vir ander vroue wat wil boer?
Moenie vrees nie. As die Here die saad in jou hart geplant het, moenie bekommerd wees oor hoe die saad gaan ontkiem en groei nie. Maak net die grond nat en vertrou dat die Here sy deel sal doen.
Ervaring. Leer by ander boere. Kry praktiese ondervinding. Moenie bang wees om te vra nie – begin onder.
Uitdagings. ’n Uitdaging is nie ’n teken dat boerdery nie vir jou gaan werk nie. Gebruik elke uitdaging om te groei in die boer wat jy eendag wil wees.
Aksie. Neem aksie om jou droom waar te maak. Begin klein. Begin met ’n plantjie in jou huis. Begin net iewers. Sonder aksie sal jou droom nooit waar word nie.
Jy is getroud, boer en sien om na werknemers wie se probleme dikwels ook jou probleme word. Hoe hou jy al die balle in die lug?
Ek vat dit dag vir dag. Om oor môre se probleme te stres gaan nie die probleme oplos nie. Ek begin elke dag reg en sluit dit op ’n goeie noot af – met Bybel lees en bid.
Ek sien ook elke dag as ’n geleentheid – iets wat nie almal kry nie. Elke nuwe dag is ’n geskenk van God. Alhoewel party dae meer uitdagend is – bly dit ’n voorreg om te leef. Wanneer ek oorweldig voel met probleme, vra ek myself bloot: “Is dit iets wat ek kan hanteer?” As dit buite my beheer is, vertrou ek dat God ’n uitweg sal gee. As dit iets is wat binne my beheer is, begin ek dit prioritiseer en dan begin ek die probleme daarvolgens oplos. Ek vra gedurig raad en hulp en dit help ongelooflik baie sodat ek nie oorweldig voel nie.
Hoe ontspan jy?
Deur kreatief te wees en nuwe dinge te leer laat my ontspan. Om iets te doen waarvan ek hou – dit laat my verfris voel. Ek moet dus besig bly om te ontspan. My lys van ontspanningsaktiwiteite is soos volg:
Hekel, naaldwerk, leer kitaar speel, skilder, perdry, tyd in my groentetuin of om sade te plant en voor te berei, leer vir my privaatvliegtuiglisensie, oefen of stap, huis regpak (net as ek dit regtig wil doen, anders is dit ’n straf), saam met my man of pa rondry deur die plaas, na die beeste te gaan kyk of by die skape ’n draai te maak, bordspeletjies speel, swem, en foto’s neem.
Wat maak jou gelukkig?
Dit maak my gelukkig:
As mense vir wie ek lief is, ook gelukkig is.
Om by die huis of rondom my familie te wees.
Om te oefen, want dit is vir my lekker om vrylik te kan beweeg.
Om altyd seker te wees dat ek ’n magdom mense het wat lief is vir my en dat ek nooit ooit alleen deur slegte tye hoef te gaan nie.
Watter verskil maak jy deur jou werk as boer?
Ek leer mense hoe belangrik dit is om jou eie kos te plant. Dis vir my lekker as my bure saam met hulle kindertjies my groentetuin besoek en hulle dan leer hoe om groente te plant. Party kinders wil mos nie groente eet nie, maar sedert hulle gereeld ’n draai maak, het van hulle begin groente eet. Ek gee ook baie van my groente weg vir die gemeenskap, maar hulle kry ook die geleentheid om vars groente in my snoepie te koop – dit help hulle baie omdat die plaas ongeveer 35 km uit die dorp uit is.
Watter aspek van boerdery geniet jy die meeste?
Die gevoel wat jy kry as jy vir mense sê dat die groente wat hulle eet deur jou geplant is. Dit laat mens met ander oë kyk na kos. Dit is ook baie terapeuties om met jou hande in die grond te werskaf.
As jy dit alles kon oordoen, sou jy iets wou verander of sou jy dit weer net so doen?
Ek sou niks verander nie – selfs nie eers my sussie se dood nie. Die Here weet wat Hy doen, Hy is in beheer van my lewe. God weet beter as enige mens. Die stuurwiel van my lewe is in sy hande.
So ’n laaste opmerking uit die perd se bek…
Ek sou nie die sukses in my boerdery bereik het sonder die ondersteuning van my man nie. Hy het van die begin af my droom ondersteun. Dan, die hulp wat ek kry van my skoonpa en die werker wat my gewasse natlei wanneer ek stad toe moet gaan vir my in vitro-behandeling. Die gemeenskap wat my ondersteun en by my koop omdat hulle my vertrou, en my bure wat my ondersteun. En laastens, my ma en pa wat my geleer het oor die waarde en opofferings wat met die plaaslewe gepaard gaan.