Bayer se eerste Boervrou van die Jaar-kompetisie is afgehandel en die wenners is tydens ’n glansryke geleentheid op 13 September by Montecasino in Johannesburg aangekondig. Daar was twee kategorieë, Vrou wat boer en Boer se vrou, met drie finaliste in elke kategorie, waaruit die algehele wenner in elke kategorie toe gekies is. Die wenner van die 2024 Vrou wat boer-kategorie, is Franelyn Rossouw.
Franelyn (Lollie) Rossouw van Gro Africa Farming, boer op die plaas Goedgedacht in Delmas, Mpumalanga. Op 1 400 hektaar word daar behoorlik gewoeker met aartappels, mielies, soja, ertjies en suikermielies onder besproeiing en ook soja en mielies op droëland. Die boerdery het langtermyn-kontrakte gesluit met verskeie maatskappye en privaat markte vir onder andere die verskaffing van bevrore produkte. Kyk ’n mens na Franelyn se suksesvolle boerdery, kom jy agter dat nougesette spanwerk met aandag aan detail net van die redes is waarom die boerdery ’n sukses is. Niks word oorgelaat aan toeval nie en die groter prentjie word nooit uit die oog verloor nie. Franelyn sê dan ook dat die bewaring van grond, mens en dier hulle na aan die hart lê en omdat hulle soveel respek het vir hulle ouers wat die besighede aan hulle toevertrou het, is dit hulle voorreg om dit op te pas. “Ons lééf rentmeesterskap!”
Ons het met Franelyn gesels oor onder andere haar grootwordjare, haar besluit om te boer, wat haar inspireer en die uitdagings wat sy as boer daagliks voor te staan kom. Lees gerus verder:
Wie is Franelyn?
Tot op vyfjarige ouderdom het ek in Benoni grootgeword as deel van ’n konstruksiefamilie wat van Gauteng tot in Mpumalanga gewerk het. My oupa – oorspronklik uit Musina se wêreld – het hom in Benoni gevestig. Dit was toe dat hy vir elk van sy drie seuns ’n plaas gekoop het, in Delmas en naby Plettenbergbaai. In 1977 het ek saam met my ouers Delmas toe getrek waar ons plaashuis binne een dag deur my pa se bouspan gebou is! Ons moes nou wel ’n jaar lank sonder elektrisiteit oor die weg kom, maar ook dit was ’n avontuur. My pa het met mielies, soja, Brahman-stoetbeeste en perde geboer.
Ek het grootgeword in die lieflike plattelandse dorp, Delmas. My skooljare was heerlik en sorgeloos. Ons was omring met baie maats en het die grootste vryheid ervaar. Ons dae was gevul met kleilat gooi, skiet en kamp – alles in die buitelug. My groot liefde was egter gimnastiek waarin ek nasionale kleure verwerf het. Ongelukkig kon ons daardie jare nie internasionaal deelgeneem het nie.
Aan die einde van my matriekjaar het ek die man wat die Here vir my gestuur het, Francois Daniel Hoffman, “raakgery” op die brug oorkant ons plaas. Vanaf ons eerste ontmoeting het ons oor alles en nog wat gesels en net nooit weer ophou gesels nie. Hy wou hê ek moes klaar studeer en het my verseker dat hy vir my sou wag. In ons tyd het ons ouers ons nie laat trou sonder papiere nie!
Na matriek is ek Tukkies toe om BA Liggaamlike Opvoedkunde te studeer om biokinetikus te word, maar het van kursus verander en my tweede keuse by Technikon Pretoria gevolg, want ek wou nie die Jakarandastad vir RAU in Johannesburg verruil nie. Ek en Francois is in 1994 getroud.
Francois het vanaf 1968 in Delmas grootgeword en ons ouers het mekaar goed geken. Hulle was almal deel van die Brahman-telersgenootskap en baie betrokke in Delmas se boerderyomgewing. Ons was 28 jaar lank getroud en het vier kinders. So saam-saam het ons die boerdery uitgebrei met lenings by Landbank en FNB en was ons bevoorreg om dit vinnig af te betaal soos wat spilpunt na spilpunt opgesit is. Landbou, konstruksie en gemeenskapsbetrokkenheid was ons lewe voordat Francois op 1 September 2021 sy eie lewe geneem het. Die uitdagings van die landbou, eksterne en finansiële druk, uitbranding en angs was die oorsaak van sy depressie en uiteindelike selfdood.
Nou, drie jaar later, het ons berusting oor sy keuse en glo ek dat dit God se manier was om hom te kom haal en te verlos van sy lydingspad. Ons vier pragtige en gesonde kinders is ’n genadegawe en geskenk van bo en ek is dankbaar dat hulle hul doel en roepings kan navolg. Die twee oudste dogters is getroud en betrokke by die besighede. Ons seun is nou in sy derdejaar op Stellenbosch en studeer landbou met die doel om by die boerdery aan te sluit en ons jongste dogter is eerstejaar op Stellenbosch met die oog om haar as sonograaf te bekwaam. Die ligpunt in ons lewe is ons eenjarige kleinseun.
Hoe het dit gebeur dat jy begin boer het?
Alhoewel ek vanaf 1977 tot 1993 op die plaas Moabsvelden in Delmas grootgeword het, was ek geseënd om saam met Francois ’n besproeiingsplaas te kon vestig, met braaikuikens te kan boer en het ek ook ’n tonnelprojek vir uitvoerrose opgerig. Die projek is na COVID-19 laat vaar en ons het ons op groente toegespits.
Ek was maar altyd die een in die kantoor wat Francois, so tussen my verpligtinge as ma, gehelp en bygestaan het. Ek het egter nooit gedink dat ek self eendag die boer op die plaas se skoene sou moes volstaan nie.
Na my man se dood, moes ek egter doodeenvoudig opstaan en die leisels oorneem, want ek het nog kinders op skool en universiteit gehad en ’n besigheid wat op my leiding staatgemaak het. Die besluit om te boer is daarom vir my geneem. My pa is ook agt maande voor Francois oorlede en met al die verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgegaan het, het ek nie ’n keuse gehad nie. Tog was dit op die ou end my redding, want ek kon nie gaan lê nie.
Vandag is ek weer gelukkig getroud met Gerhard Rossouw, self ’n wewenaar, wat my bygestaan het op my trauma-genesingspad. Hy was ook my klankbord met die talle uitdagings waarvoor ek te staan gekom het. Hoewel my pad traumaties was, het ek soveel genade ontvang en glo ek dat die Here Gerhard aan my voorsien het.
Om ’n boer te wees, is nie maklik nie. Vertel ons van jou grootste uitdagings.
Dit is vir seker nie maklik om ’n boer te wees nie. Ek sê altyd ’n boer is ’n wonderwerk wat elke dag soveel uiterstes, rolle en verantwoordelikhede moet hanteer en verdien daarom werklik respek. Vir my, as vrou, wat genoodsaak was om voort te gaan met die boerdery, was dit beslis nie aldag maklik nie. My lys van uitdagings is baie lank, veral ten opsigte van die risiko’s en eksterne faktore wat ’n rol speel in die winsgewendheid van die plaas. Hier dink ek aan beurtkrag, uitermatige nat en droë toestande, voëlgriep, korrupsie, uiters hoë insetkoste, en so meer.
Die grootste uitdaging was beslis om alleen met die plaas voort te gaan op ’n baie meer intensiewe manier as waaraan ek gewoond was. Dit was en is steeds ’n baie diep leerskool, want ons moes die plaas van vooraf leer ken na Francois se dood – grond, water, besproeiingstelsels, pompe, noem maar op – ek leer nog elke dag …
Beskryf ’n tipiese dag op jou plaas.
My dag is nooit dieselfde nie. As direkteur en eienaar van die ondernemings, is dit my rol om die spanne van plaasbestuurders en personeel te koördineer en om die finale besluite oor onder andere aankope, finansies en bemarking te neem. Daarom volg ek op met elke bestuurder van elke vertakking om toe te sien dat die finansies klop sodat ons kan voortgaan met dit waarvoor ons lief is. Om kontak te behou met al die insetverskaffers is ook van kardinale belang, want ek sien hulle as deel van ons boerderyspan. Ons is kontrakgroeiers vir verskeie maatskappye soos Natures Garden, privaat markte, asook Festive en daarom is verhoudings so belangrik. Dag-tot-dag-besluite word geneem saam met Gerhard (self ’n droëland-grondbewaringsboer) wat my grootliks bystaan met kultivarkeuses, bemarking van ons grane en operasionele en meganiese besluitneming. Om ten minste een maal ’n maand bymekaar te kom as span bly belangrik, indien die werk en seisoen dit natuurlik toelaat.
Wie of wat inspireer jou?
My ouers, broer en eerste man – nou reeds almal oorlede – was ’n absolute inspirasie ten opsigte van besigheid, verhoudings en integriteit. Gerhard, wat nou die lewenspad saam met my stap, is net so ’n inspirasie met dit wat hy elke dag behartig en natuurlik hoe hy my aanspoor en motiveer in my rolle en verantwoordelikhede.
My kinders is net so ’n wonderlike inspirasie en voorreg vir my. Dan natuurlik die natuur. Enige natuurtoneel soggens of met sonsak is vir my ’n skildery van God wat ek sien as inspirasie vir ons elke dag se opstaan en om te verbeter op gister wat verby is.
Watter eienskappe dink jy is nodig om ’n suksesvolle boer te wees?
Daar is ’n paar. Eerstens, om altyd die Here as jou vennoot te hê en om nooit op te hou met wat jy doen nie, want jy kan nie weer inhaal nie.
Dan is dit ook belangrik om nooit moed te verloor nie, al is die omstandighede nie altyd geskik nie. Positief bly en om die beste in mense raak te sien, is ook belangrik. En laastens, om probleme eerder na geleenthede om te draai. Dit dra alles by tot jou sukses.
Watter raad het jy vir ander vroue wat wil boer?
My raad aan ander vroue wat wil boer, sal wees: Stap ’n pad met die Here, luister na raadgewers en medeboere, wees leergierig, vertrou jou vroulike intuïsie en onthou dat spanwerk belangrik is as jy verder wil gaan in die lewe. En … moenie jou vroulikheid onderskat nie. Wees braaf en dapper en omarm nuwe geleenthede. Glo in jouself!
Jou dag is oorlaai met die boerdery en besighede, jou gesin, jou werknemers en meer. Hoe hou jy al die balle in die lug?
Dit is net die Here se genade en bystand wat help. Om gelukkig getroud te wees en ’n spanmaat te hê wat my aanspoor, is net so belangrik. Ek is ook bevoorreg om inspraak in my kinders se lewens te kan gee en hulle te sien groei – dit maak van my ’n vol mamma.
Om myself te ken, geestelik en sielkundig, en die pad van genesing te kon stap om werklik van binne af te kon berus en my omstandighede te aanvaar en te kan aanpas by nuwe norms, gee my die krag om elke dag aan te pak.
Ek probeer tyd maak vir elkeen in ons bedryf en om te luister, want die persoonlike welstand van elke werknemer is belangrik. As ek terugkyk op die afgelope drie jaar met almal se ondersteuning en my persoonlike groei, gee dit my positiewe energie en dit help my om elke dag se uitdagings te kan hanteer. Om te beplan en te prioritiseer is net so belangrik vir my. Deesdae moet ek ook harde kopbesluite neem oor dinge wat ek nie kan beheer nie – en waar ek moet dit laat gaan. Ek het geleer om net dit wat ek kan hanteer, te bestuur.
Hoe ontspan jy?
Ek is lief vir lees, kuns en musiek en tye saam met my man, kinders en kleinkind is natuurlik heel bo aan my lys. Ek sal graag weer aan die kreatiewe deel van my wil aandag gee en tyd daarvoor wil inruim. En dan hou oefening die lyf en kop gesond. Ek hou ook van kuier saam met hartsvriende.
Wat maak jou gelukkig?
As my gesin gelukkig is, is ek ’n vol vrou en mamma. As alles op die plaas, personeel en die bedrywe om my optimaal funksioneer, as dinge beweeg en nie stagneer nie, as ek positiewe groei sien op alle terreine, as ons kan verbeter en beter planne kan maak vir die toekoms, dan is ek gelukkig. En laastens, om ’n verskil in mense se lewens te maak.
Watter verskil maak jy deur jou werk as boer?
Ons is in die bevoorregte posisie om werk te verskaf aan die nabye gemeenskap. In seisoentyd kan ons nog meer mense in diens neem. Op dié manier dra ons by tot voedselsekerheid. Ek dink as vrou kyk ek ook anders na my omgewing, maar omdat spanwerk vir my so belangrik is, kies ek my personeel met oorleg. Ons leuse is: Uitnemendheid vir ons Skepper, die mens en die natuur.
Watter aspek van boerdery geniet jy die meeste?
Oestyd! Niks is so lekker as om te sien hoe ons beplanning van saadkeuses, grondvoorbereiding, kunsmis, chemieprogramme en besproeiingskedulering bymekaarkom nie. Om te sien hoe daardie oes afgehaal word, is die wonderlikste gevoel van dankbaarheid om so naby aan die natuur te kan leef.
As jy dit alles kon oordoen, sou jy iets wou verander of sou jy dit weer so doen?
Al het ek baie geworstel met die hoekoms en waaroms in my lewe, het ek berus by die stil, sagte stem van die Here se Gees wat vra: “Hoekom nie jy nie?” Ek het aanvaar dat God ’n pad vir ons elkeen het en dat Hy dit saam met ons stap en ons nooit los nie. Ek kan met alle eerlikheid sê ek verlang soms na die verlede en hoe dit was, maar ek kies om die hede te omarm en die wonderlike nuwe geleenthede en drome wat op pad is, te aanvaar. En ja, ek sou dit weer so doen.
So ’n laaste opmerking uit die perd se bek …
“Moet nooit huiwer om raad te vra van medeboere nie en wees oop vir groei en inspraak. Luister gerus na jou Bayer-verkoopsverteenwoordiger oor kultivars en chemie. En onthou: Jy is nooit te oud om te leer nie. Wees daarom aanpasbaar, dink innoverend en maak ’n plan.
“Hoewel my dae ongekend vol en uitdagend is, is dit so bevrydend om deel van ’n boerderygemeenskap te wees wat steeds volhoubaar wil boer vir die toekoms van ons land se voedselvoorsiening asook die volgende generasie.”